Tuesday, August 3, 2010

Danseres van die nag

Ek het gisteraand die danseres van die nag ontmoet...en sy was...


Gisteraand in Pretoria, net na tien, het ek die danseres van die nag gesien. Beeldskoon, iets betowerend waarna ek nie kon ophou staar. Dit was vir my baie ironies, hierdie danseres het nog nooit haar geld gemors op sigarette, maar die teer lei tot haar lyding en dood. Sy dans op die wit lyn, geskets deur die vinger van Jesus. Jy onthou die verhaal van die prostituut. Maar uit die gehoor kom daar steeds klippe. Die lyn op die grond beskerm haar nie.



Sy dans elke aand op dieselfde verhoog. Duisende toeskouers kom kyk ook elke aand na haar. Sy is waarlik 'n bekende danseres. Haar gehoor staar na haar, word gevul met verwondering, skaamte en selfs jaloesie. Stil sit die gehoor en staar na haar. Rooi, kykend stil. Net sy mag beweeg. Sy dans van kyker na kyker. Dis stil, dis koud. Die kykers se ligte verhelder haar onbekostigbare rok. Die mis op die verhoog omvou haar en word belig deur die kykers se spoggerige, duursame en afskuwelike lewens.


Skielik dreun die musiek harder, die mis vlug van haar verhoog. Die verhoog se ligte verkleur haar dans. Groen, oranje, rooi maak hierdie dans ironies mooi. Dis tyd vir die volgende rooi, kykende, stil gehoor.


Ek het gisteraand die danseres van die nag ontmoet....en sy was....'n honger straatkind, in die koue, donker, mistige nag, met 'n sak om sy verkrimpte lyfie en die mis in die straat. Met die weerkaatsing van motorligte. Hoe ironies mooi...