Monday, May 25, 2009

Gereelde Kuiergas

"Almal stel teleur!".....Ek het hierdie woorde al so baie gehoor. Dit vorm deel van sinne in boeke, word die woorde van note in 'n liedjie en word selfs gevorm in die monde van mense. So baie keer en op so baie plekke hoor ons hierdie woorde, maar ons probeer om dit nie te glo nie. Maar wanneer gaan ons ophou om ons eie ervaring te ignoreer?
Ek word so gereeld besoek deur 'n mannetjie met die naam "Teleurstelling". Hierdie ongenooide gas besoek my baie keer deur my drome, doelwitte, vriende en soms self deur God!! En hoe ironies: Hy kom kuier juis op tye wat jy hom nie regtig nodig het nie. Hy kom altyd met 'n pakkie hartseer. Nee, hartseer is 'n understatement! Hy kom ruk jou hart uit jou borskas en skeur dit in twee! (O fok, nou klink ek soos die skrywer van SAW). Maar dit is hoe dit voel. Veral as hy kom van mense wat so close aan jou was. Moet mens net vir eens en altyd aanvaar dat mense jou altyd gaan teleurstel? Maar dit is nie 'n uitweg nie, want dan gaan jy nooit mense kan vertrou nie...
Dalk moet ons aanvaar mense is nie perfek nie. En dalk stel mense jou nie regtig teleur nie, jy het dalk net te veel van hulle verwag. Die belangrikste is dit: Moenie dat mense wat jou teleurstel jou beeld van alle mense vorm nie. Moenie dat een vriend se teleurstellende optrede jou verhouding met alle ander mense in jou lewe beinvloed nie. Bly hoop dat daar iemand in jou lewe is wat jou nooit sal teleurstel nie.
Martin Luther King, Jr. het gese: "We must accept finite disappointment, but never lose infinite hope."
En wanneer God mens teleurstel?.....dis 'n onderwerp vir 'n ander keer.
"Almal stel teleur...".....ek glo dit nie!

Monday, May 11, 2009

Kersvader...


Almal van ons het een of ander tyd geglo in Kersvader. Ons het hierdie idiliese beeld van die lewe en van die wereld gehad. Ons het gedink dat die wereld hier is om ons te entertain en om geskenke aan te dra. Dat die lewe gaan oor mooi liggies, lekker kos en Kersmusiek.
Maar iewers langs die pad het mense, dinge en omstandighede ons gewys dat dit nie so is nie. Ons gewys dat Kersvader nie bestaan nie. Ons almal is een of ander tyd ontnugter uit hierdie droom dat Kersvader bestaan.
Dit laat my dink aan 'n storie wat ek gelees het oor die World Trade Centre. Net na die gebeure van 9/11 het 'n dogtertjie (4jr) met haar sussie (7jr) gestry oor die oorsaak van hierdie groot tragedie. Die dogtertjie van 4 het vas geglo dat dit 'n ongeluk was en dat die mense net mooier moes kyk waar hulle gevlieg het. Haar sussie (7jr) het vir haar gese dat dit nie 'n ongeluk was nie, maar dat die mense beplan het om in die geboue in te vlieg. Dit het die dogtertjie van 4 baie ontstel en dit alles het 'n groot gestryery tussen die twee dogtertjies veroorsaak. Iewers tussen die ouderdom van 7 en 4 het die dogtertjie van 7jr besef dat Kersvader nie bestaan nie.
Moet ons vandag nog glo in 'n Kersvader?