Monday, June 8, 2009

"The taste of strawberries...."


Partykeer druk die lewe ons net te erg. Die ring wat ek en jy aan ons vinger moet dra, raak te swaar. Ondraaglik. Jy kom op ‘n punt wat jy net nie meer ‘n tree kan gee nie. Nie meer een keer asem kan haal nie. Ons raak so vasgevang in die swaarkry van die lewe dat ons die eenvoudige goed vergeet. Die klein dingetjies in ons lewens wat die lewe die moeite werd maak, raak verlore. Die swaar dinge raak oorweldigend. Dit maak ons blind vir enige iets anders. Kan jy die smaak van aarbeie onthou? Kan jy net daar waar jou nou is herroep hoe hierdie rooi vruggie proe? Of het jy, soos ek, jou blind gestaar teen die probleme van die lewe en intussen vergeet om ‘n aarbei te proe?

Ons vergeet baie keer om stil te staan en ‘n aarbei te proe, en soms gebeur dit dat jy ‘n aarbei wil proe, maar hom net nie kan vind in die bedding van jou lewe nie. Hy’s daar! Kyk net mooi!

Ons moet dalk meer begin stilstaan by die aarbei-bedding van die lewe, en net bietjie moeite doen om te buk, te pluk en te proe. Soek meer na die aarbeie in die lewe, jy mag dalk selfs een kry met room....
So: "Can you remember the taste of strawberries?"

1 comment:

  1. Een van my vriende het vir my vertel hoe hy eendag van kampus af terug na sy woonstel toe gestap het. Hy het ‘n moelike dag gehad, of dalk het die son in sy oë geskyn? Ek kan nie onthou wat die rede was nie, maar hy het met ‘n frons oor sy voorkop geloop. ‘n Boemelaar stap toe verby hom en met ‘n cheerful smile sê hy vir hom om nie so bekommerd te lyk nie. Die storie het nogal ‘n impak op my gehad (Dankie vir die een wat dit vir my vertel het ;)). ‘n Boemelaar wat amper niks het nie kon smile of hy ‘n groot hap van ‘n sappige aarbei geproe het! Maar wat nog meer amazing is, is dat hy ‘n klein aarbeitjie vir iemand anders kon uitdeel deur sy vriendelikheid uit te straal.

    My ma vertel my baie keer hoe aangrypend dit vir haar was om kinders in ‘n kinderhuis uit volle bors te hoor sing: “Tel jou seëninge een vir een. . .” Hulle wat so min seëninge gehad het, kon haar aanspoor om weer regtig dankbaar te wees oor dit wat sy het. Onlangs het ‘n klein Vigs-wesie vir my ook so ‘n aarbeitjie gegee waarvan die soet smaak my altyd sal bybly. Dit was na ‘n oggend se uitbundige spel en die kindertjies moes al baie honger gewees het. Toe ons uiteindelik vir hulle kospakkies uitdeel, het hulle gestorm om eerste daar te kom. Ek het nog gestaan en wonder of daar vir almal genoeg gaan wees toe die klein Vigs-wesie aan my hemp trek en haar handjie met ‘n pakkie chips daarin na my toe uithou. Sy wou seker maak ek kry ook iets om te eet!

    Ek wens ek kon dit altyd regkry om soos die boemelaar, kinderhuiskinders en die Vigs-wesie my aarbeie raak te sien en te deel. Dalk gaan dit meer oor die bedding waarin ons plant. C.S. Lewis het gesê dat aardse genot dalk net plaasvervangers vir vreugde is. Lewensvreugde put ons uit iets so gering soos die soet reuk van ‘n aarbei, of selfs net die wete dat daar aarbeie aan die groei is, al kan ons dit nie nou sien nie. En wanneer ons besef dat God wonderlik vir ons voorsien, kan ons verstaan en uitleef: You are blessed to be a blessing!

    ReplyDelete